VOORWOORD

Die Hugenote wat teen die einde van die 17de eeu na die Kaap van Goeie Hoop verhuis het, het slegs ‘n breukdeel verteenwoordig van die groot Protestantse uittog uit Frankryk na die Herroeping van die Edik van Nantes in 1685. Reeds in 1671 arriveer die eerste Franse Hugenotevlugteling, Francois Villion (later Viljoen), aan die Kaap. In 1686 kom die broers Guillaume en Francois du Toit aan.


Die hoofstroom van die Hugenote wat as vlugtelinge na die Kaap geëmigreer het, het in die jare 1688-1689 hier aangekom. Hulle onderskei hulle van die ander setlaars wat hulle aan die Kaap gevestig het, nie omdat hulle Franssprekend was nie, maar omdat hulle inderdaad vlugtelinge was wat gehoop het om in ‘n nuwe vaderland vryheid te van geloof te vind. Hulle versimboliseer in die huidige Suid-Afrika die eerste vryheidsoekers, indien nie die oorspronklike vryheidsvegters nie.
Onder hulle was die broers Jean en Pierre Jourdan en hul gesinne wat in 1688 met die Berg China aan die Kaap aangekom het, en daarmee die Jordaan familie in Suid-Afrika gevestig het. Dit is hulle en hul nasate wat in hierdie familieregister aangeteken is – mense wat die geskiedenis en nalatenskap van die Hugenote voortsit en handhaaf.


Nadat die hoofstroom Hugenote in 1688 – 1689 hier aangekom het, het hulle ongeveer een-sesde van die vryburgerbevolking uitgemaak, waarna hulle getalle steeds drupsgewyse tot die beëindiging van staatsondersteunde emigrasie in 1707 toegeneem het. Tog was hulle getalle groot genoeg om ‘n sterk invloed op die jong Kaapse nedersetting uit te oefen.


Die voornemende setlaars is slegs streng noodsaaklike bagasie toegelaat. Aan die Kaap was van hulle verwag om 'n bestaan uit die landbou, handel of enige ander bedryf te maak; indien deur eersgenoemde, sou hulle plase ontvang, en gereedskap, saad en vee sou aan hulle gegee word, waarvan die koste mettertyd aan die Kompanjie in koring, wyn of enigiets anders terugbetaal moes word. Onder hierdie moeilike omstandighede gaan boer Jean Jourdan op die plaas La Motte naby die huidige Franschhoek, en Pierre Jourdan op die plase Provence en Lourmarin, en later ook Bellingham te Franschhoek.


Hulle, maar veral hul nasate, het bewys gelewer van hulle hardwerkendheid wat gelei het tot hul vestiging as suksesvolle boere wat ‘n groot toename in landbouproduksie in die jong nedersetting verseker het. Verskeie landgoedere dra vandag Franse name wat herinner aan die besondere bydrae wat die Hugenote op die gebied van veral die wynbou gelewer het, insluitende die name van die plase van die oorspronklike Jordaan broers.


Die Hugenote het egter ook ‘n breër erfenis nagelaat. As groep het die Hugenote op betreklik vroeë stadium ná die volksplanting hier aangekom toe die blanke bevolking ook nog relatief klein was. Wat hulle in hul eie vaderland as kinders van die Hervorming beleef en ervaar het, het hulle as geestesgoed met hulle saamgebring. Maar hoe gering ook al in getalle, het hulle nietemin in Suid-Afrika op alle gebiede – ekonomies, opvoedkundig, tegnologies, landboukundig, kultureel, kerklik, godsdienstig, en so meer – ‘n waardevolle bydrae gelewer in die beginjare van die vestiging aan die Kaap van Goeie Hoop. Hierin het die Jordaans hul eie stempel afgedruk en hul eie bydraes gelewer, soos wat in hierdie familieregister verwoord word.


Die Hugenote se nalatenskap is vliedend: met die verloop van jare het navorsers verniet gesoek na ‘n duidelik Franse invloed onder die Kaapse koloniste, en slegs die name van families en plase bly oor. Selfs hul taal – Frans – het binne drie geslagte verdwyn. Watter bydrae die Hugenote ook al gemaak het, word nie meer afsonderlik van hul mede-koloniste se bydrae onthou nie. Maar die Hugenote se sin vir waardes leef voort, en die romantiek klou steeds aan daardie Franse plaasname in die Wes-Kaap wat aan die vlugtelinge herinner.


Ek verwelkom hierdie familieregisters as ‘n waardevolle toevoeging tot die opskryf van die geskiedenis en bydrae van die Hugenote families in Suid-Afrika. Mag almal wat die van Jordaan dra, of spog met Jordaan-bloed in hul are, voortgaan om te help bou aan die nuwe Suid-Afrika waar die eienskappe en waardes wat hulle verteenwoordig so nodig is.

Prof H Christo Viljoen

Voors: Hugenote Vereniging van SA
Stellenbosch
2005-03-02