![]() |
![]() |
|||
Die voorgeskiedenis van Suid-Afrika hang ten nouste saam met die wel en weë van die Hugenote wat hul aan die einde van die sewentiende eeu in Suid-Afrika kom vestig het. Maar tog gaan dit verder as net die voorgeskiedenis. In teenstelling met die migrasie van die Hugenote en ander groepe vanuit Europa na Suid-Afrika het daar die afgelope dekades 'n omgekeerde uittog plaasgevind van die afstammelinge van daardie setlaars na ander wêrelddele. Een van die vernaamste gevolge van die diaspora van Suid-Afiikaners oor die wêreld heen is die gedeeltelike verlies aan identiteit in hul nuwe vaderlande vir daardie setlaars. In sommige lande word dit vir migrante baie moeilik gemaak om 'n eie kultuur te behou. Maar in lande waar multikulturalisme die orde van die dag is en kutturele diversiteit aangemoedig word is daar vandag 'n oplewing in die belangstelling in genealogie. Ook in die skole waar hierdie diversiteit aangemoedig word, word 'n algemene belang in hul oorsprong by die jeug opgemerk. Hierdie soeke na hul oorsprong is een waar tegnologie 'n belangrike hulpmiddel kan wees. Ons het in die afgelope jare aansienlike voortuitgang in die benutting van tegnologie (in al sy vorms) in die genealogiese veld gesien. Die toenemende gebruik van die internet, die beskikbaarstelling van databasisse met duisende of selfs miljoene name en die groei van "elektroniese gemeenskappe" is maar 'n paar voorbeelde hiervan. Die eGGSA - die virtuele of elektroniese tak van die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika - is nog 'n voorbeeld van hoe tegnologie aangewend kan word om die belangstelling in genealogie nie net aan te wakker nie, maar ook om dit moontlik te maak vir mense van oral oor die wereld, van verskillende agtergronde en kultuurgroepe om met mekaar kontak te hê. Die eGGSA stel homself dan ook ten doel om aan mense wat Suid-Afrika verlaat het 'n koppelvlak beskikbaar te stel waardeur hulle inligting oor hul oorsprong kan kry en ook om in 'n genealogiese sin skakeling te behou met Suid-Afrika. Vandag is daar buite die grense van Suid-Afrika duisende Jordaan nasate waarvan 'n groot aantal reeds in hierdie publikasie opgeneem en teruggekoppel is tot 1688. Dit is my vertroue dat die beskikbaarstelling hiervan andere ook sal aanspoor om hul besonderhede deur te gee vir toekomstige bywerking. Hiermee gaan my hartlike gelukwensinge aan die skrywer met die grootse taak wat hy aangepak en suksesvol afgehandel het. Dit is veral verfrissend dat in hierdie tye waar kommersialisme hoogty vier, daar steeds mense is wat bereid is om soveel tyd en energie te bestee aan die uitbouing en beskikbaarstelling van 'n familie se geskiedenis en agtergrond. Mag hierdie mylpaal in die geskiedenis van die Jordaans nuwe insigte daarstel, nie net vir die Jordaanfamilie en nageslagte nie maar ook vir ander belangstellendes. Ek vertrou dat almal die avontuur van die ontdekkingsreis deur hierdie publikasie ten volle sal geniet.
Melbourne, 15 Maart 2005
|
||||
![]() |
||||