VOORWOORD

Toe Marthinus Jordaan, die opsteller van hierdie geslagregister, my enkele jare gelede genader het op soek na ‘n eksterne promotor vir sy doktorale proefskrif, was ek onbewus daarvan dat hy ook ‘n gepubliseerde weergawe in die vooruitsig stel en my weer sou nader om ‘n Voorwoord daarvoor te skryf.

Alhoewel twee Jourdan broers as Frans Hugenote vlugtelinge hier aan die suidpunt van Afrika voet aan wal gesit het meer as driehonderd jaar gelede, stam alle hedendaagse Jordaans af van die egpaar Jean Jourdan en Elisabeth (Isabeau) le Long. Binne die eerste 150 jaar het die Jordaans vanaf “La Motte” in Franschhoek oor die hele Kaapkolonie versprei en word hulle kinders in groot getalle gedoop in die latere gemeentes van Montagu, Worcester, Robertson, Sutherland, Fraserburg, Oudtshoorn, Cradock, Tarkastad, Queenstown en Somerset-Oos. Maar daarby het dit nie gebly nie, want onder die Voortrekker stamouers was daar etlike Jordaans uit die distrikte Graaff-Reinet, Somerset-Oos en Cradock wat die Kaapkolonie verlaat het om by die trekgeselskappe van Piet Retief en Jan du Plessis aan te sluit, oppad na die latere Vrystaat, Natal en Transvaal. Om maar enkelinge uit te lig: Pieter Georg Jordaan is saam met Piet Retief op 6 Februarie 1838 op Kwa-Mathiwane vermoor, terwyl die Voortrekker Johannes Hendrik Jordaan as 76 jarige grysaard tydens die Tweede Vryheidsoorlog op 18 September 1901 in die Konsentrasiekamp op Springfontein oorlede is.

“Die Boere Offisiere 1899-1902” deur Jacques Malan (1990) maak melding van drie Jordaan kommandante wat aan Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem het te wete Jan Jordaan wat in Griekwaland-Wes onder genl Hertzog opereer het, Kootjie Jordaan van Hoopstad in die Vrystaat en Louis Hosea Jordaan van Pretoria. Gert Jordaan was die skrywer van die bekende werk “Hoe zij stierven” wat oorspronklik in 1904 op Burgersdorp uitgegee is en waarvan ‘n Afrikaanse vertaling “So het hulle gesterf!” in 1940 in Kaapstad verskyn het. Albei uitgawes word ryklik aangehaal as bron deur historici wat oor die Tweede Vryheidsoorlog navorsing doen.

Verskeie Jordaans het ook in die bediening gestaan as predikante en sendelinge, terwyl hulle in die onderwys ook diep spore getrap het. In “Die Afrikaner - Familienaamboek en Personalia” wat in 1955 in Kaapstad uitgegee was, word ‘n aantal Jordaans van Worcester, Rawsonville, De Doorns, Kakamas en Somerset-Oos uitgesonder wat hulself in die boerderybedryf onderskei het. Deur ‘n behoorlike genealogiese studie soos hierdie deur die opsteller geloods, kan die hele Jordaan familie sover moontlik gedokumenteer en binne die Suid-Afrikaanse samelewing in konteks geplaas word.

Daarom is ek namens die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) en die breë navorsingspubliek dankbaar dat die opsteller dit daartoe gebring het om die produk van sy jarelange navorsing te laat publiseer, sodat dit vir almal toeganklik kan wees. Alhoewel dit vir ‘n genealoog bykans onmoontlik is om ‘n punt na die laaste inskrywing in sy familieregister te plaas en sy pen neer te lê, het die opsteller dit goed gevind om sy navorsing halt te roep en te boek te stel – dit op sigself is ‘n mylpaal beslissing wat besondere lof verdien, omdat in enige familie daar voortdurend nuwelinge gebore word, nuwe gesinne gevorm word en ouer familielede te sterwe kom (sonder dat jy van elke gebeurlikheid noodwendig sou kennis neem).

Per slot van sake is genealogiese navorsing bloot die beligting van ‘n klein segment van die groter, nimmereindigende lewensketting van geslagte wat kom en gaan - vanaf die Skepping tot die Wederkoms

Leon Endemann
Direkteur: GISA