BIOGRAFIESE SKETS: O.J.O. FERREIRA

Ockert Jacobus Olivier Ferreira is in 1940 in die Onder-Kouga in die Oos-Kaap gebore en het aan die Hoërskool D.F. Malherbe in Port Elizabeth gematrikuleer. Sy naskoolse opleiding het soos volg verloop: BA (UP, 1962), THOD (NKP, 1963), BA (Hons) (UOVS, 1967), MA (UP, 1970), DLitt et Phil (UNISA, 1978) en DPhil (UP, 1994). Ferreira was ‘n onderwyser (Hoërskool Lichtenburg), museumkundige (Oorlogsmuseum, Bloemfontein), dosent (Strydom-opleidingskool, Thaba Nchu), museumkundige (Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Pretoria) en hoofnavorsingsbeampte (Instituut vir Geskiedenisnavorsing, RGN) voordat hy as dosent en later professor in die Departement Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria aangestel is. Sedert 1980 het hy as promotor, medepromotor of eksterne eksaminator vir 27 doktorale studente en as leier, medeleier of eksterne eksaminator vir 42 magisterstudente opgetree. Hy het in Junie 1998 afgetree en hom op Jeffreysbaai gevestig, waar hy hom voltyds besig hou met navorsingtemas wat oor die kontak tussen Suid-Afrika en Portugal handel.


Prof. Ferreira is die outeur/redakteur van veertien boeke en ‘n tagtigtal tydskrifartikels en was die redakteur van Historia en die S.A. Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis. Sy lidmaatskap van vakverenigings sluit in die S.A. Vereniging vir Kultuurgeskiedenis (raadslid, 1982-1990 1992-1994, 1996-1997, voorsitter 1988-1990), Historiese Genootskap van S.A. (bestuurslid, 1990-1994), S.A. Historiese Vereniging (sekretaris, 1995-1997). Hy was ‘n lid van die Beheerraad van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Pretoria (1988-1996) en die Raad vir Heraldiek (1989-1997). Die F.A.K. het in 1994 die Prestigeprys vir Geskiedenisbevordering aan Ferreira toegeken, terwyl die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns hom in dieselfde jaar met die Erepenning vir Kultuurgeskiedenis vereer het. In 1998 is die Historiese Genootskap van S.A. se sertifikaat vir die bevordering van die vakke Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis aan hom toegeken, terwyl die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde hom in dieselfde jaar met die Erepenning vir Volkskultuur vereer het. In 2004 het die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir ‘n tweede keer bekroon en wel met die Erepenning vir Geskiedenis.