BIOGRAFIESE SKETS: SL BARNARD

Schalk Leopold Barnard is in 1947 in Otjiwarongo, Namibië, gebore en het aan die Hoërskool Otjiwarongo in Namibië gematrikuleer. Sy naskoolse opleiding het soos volg verloop: BA (UOVS, 1968); BAHons (UNISA, 1972); MA (UOVS, 1976); DPhil (UOVS, 1979) en Nagraadse HOD (UOVS, 1969). Barnard was ‘n onderwyser (Hoërskool Mariental in Namibië, Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, Hoërskool Dr Viljoen in Bloemfontein). Verder was hy Departementshoof: Eksaminering van Geskiedenis en Afrikaans aan die Vrystaatse Onderwysdepartement. In 1978 is hy as junior lektor by die UOVS aangestel, 1980 as lektor, 1983 as senior lektor, 1987 as medeprofessor, 1992 as professor, 1996 vir vier maande as waarnemende Departementshoof en 1 Januarie 1997 as Departementshoof van die Departement Geskiedenis. Hy het tot dusver as promotor vir 21 MA-verhandelings en 12 Ph.D-proefskrifte opgetree.

Prof. Barnard het meer as 50 artikels in geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer en het al meer as 100 vakwetenskaplike referate nasionaal en internasionaal gelewer. Hy tree ook al verskeie jare op as eksterne moderator vir Umalusi vir graad 12 Geskiedenis. Prof. Barnard was tot onlangs die voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, hy is die ere-president van die Militêre Historiese Kommissie van Suid-Afrika en ‘n lewenslange lid van die FAK. Prof. Barnard is tans die redakteur van die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis en is die outeur van verskeie boeke, onder andere die geskiedenis van die Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat se geskiedenis.