VOORWOORD
Die Hugenote wat teen die einde
van die 17de eeu na die Kaap van Goeie Hoop verhuis het, het slegs ‘n
breukdeel verteenwoordig van die groot Protestantse uittog uit Frankryk
na die Herroeping van die Edik van Nantes in 1685. Reeds in 1671 arriveer
die eerste Franse Hugenotevlugteling, Francois Villion (later Viljoen),
aan die Kaap. In 1686 kom die broers Guillaume en Francois du Toit aan.
Die hoofstroom van die Hugenote wat as vlugtelinge na die Kaap geëmigreer
het, het in die jare 1688-1689 hier aangekom. Hulle onderskei hulle van
die ander setlaars wat hulle aan die Kaap gevestig het, nie omdat hulle
Franssprekend was nie, maar omdat hulle inderdaad vlugtelinge was wat
gehoop het om in ‘n nuwe vaderland vryheid te van geloof te vind.
Hulle versimboliseer in die huidige Suid-Afrika die eerste vryheidsoekers,
indien nie die oorspronklike vryheidsvegters nie.
Onder hulle was die broers Jean en Pierre Jourdan en hul gesinne wat in
1688 met die Berg China aan die Kaap aangekom het, en daarmee die Jordaan
familie in Suid-Afrika gevestig het. Dit is hulle en hul nasate wat in
hierdie familieregister aangeteken is – mense wat die geskiedenis
en nalatenskap van die Hugenote voortsit en handhaaf.
Nadat die hoofstroom Hugenote in 1688 – 1689 hier aangekom het,
het hulle ongeveer een-sesde van die vryburgerbevolking uitgemaak, waarna
hulle getalle steeds drupsgewyse tot die beëindiging van staatsondersteunde
emigrasie in 1707 toegeneem het. Tog was hulle getalle groot genoeg om
‘n sterk invloed op die jong Kaapse nedersetting uit te oefen.
Die voornemende setlaars is slegs streng noodsaaklike bagasie toegelaat.
Aan die Kaap was van hulle verwag om 'n bestaan uit die landbou, handel
of enige ander bedryf te maak; indien deur eersgenoemde, sou hulle plase
ontvang, en gereedskap, saad en vee sou aan hulle gegee word, waarvan
die koste mettertyd aan die Kompanjie in koring, wyn of enigiets anders
terugbetaal moes word. Onder hierdie moeilike omstandighede gaan boer
Jean Jourdan op die plaas La Motte naby die huidige Franschhoek, en Pierre
Jourdan op die plase Provence en Lourmarin, en later ook Bellingham te
Franschhoek.
Hulle, maar veral hul nasate, het bewys gelewer van hulle hardwerkendheid
wat gelei het tot hul vestiging as suksesvolle boere wat ‘n groot
toename in landbouproduksie in die jong nedersetting verseker het. Verskeie
landgoedere dra vandag Franse name wat herinner aan die besondere bydrae
wat die Hugenote op die gebied van veral die wynbou gelewer het, insluitende
die name van die plase van die oorspronklike Jordaan broers.
Die Hugenote het egter ook ‘n breër erfenis nagelaat. As groep
het die Hugenote op betreklik vroeë stadium ná die volksplanting
hier aangekom toe die blanke bevolking ook nog relatief klein was. Wat
hulle in hul eie vaderland as kinders van die Hervorming beleef en ervaar
het, het hulle as geestesgoed met hulle saamgebring. Maar hoe gering ook
al in getalle, het hulle nietemin in Suid-Afrika op alle gebiede –
ekonomies, opvoedkundig, tegnologies, landboukundig, kultureel, kerklik,
godsdienstig, en so meer – ‘n waardevolle bydrae gelewer in
die beginjare van die vestiging aan die Kaap van Goeie Hoop. Hierin het
die Jordaans hul eie stempel afgedruk en hul eie bydraes gelewer, soos
wat in hierdie familieregister verwoord word.
Die Hugenote se nalatenskap is vliedend: met die verloop van jare het
navorsers verniet gesoek na ‘n duidelik Franse invloed onder die
Kaapse koloniste, en slegs die name van families en plase bly oor. Selfs
hul taal – Frans – het binne drie geslagte verdwyn. Watter
bydrae die Hugenote ook al gemaak het, word nie meer afsonderlik van hul
mede-koloniste se bydrae onthou nie. Maar die Hugenote se sin vir waardes
leef voort, en die romantiek klou steeds aan daardie Franse plaasname
in die Wes-Kaap wat aan die vlugtelinge herinner.
Ek verwelkom hierdie familieregisters as ‘n waardevolle toevoeging
tot die opskryf van die geskiedenis en bydrae van die Hugenote families
in Suid-Afrika. Mag almal wat die van Jordaan dra, of spog met Jordaan-bloed
in hul are, voortgaan om te help bou aan die nuwe Suid-Afrika waar die
eienskappe en waardes wat hulle verteenwoordig so nodig is.
Prof H Christo Viljoen
Voors: Hugenote Vereniging
van SA
Stellenbosch
2005-03-02
|